Thursday 31 May 2012

Hondsdolheid: Vrou (52) dalk tweede sterfgeval

’n Vrou in haar 50’s van KwaZulu-Natal wat die naweek dood is, is vermoedelik die tweede onlangse noodlottige geval van hondsdolheid in KwaZulu-Natal.

Jeffrey Zikhali, woordvoerder van die provinsie se departement van landbou, het gister gesê die 52-jarige vrou van Ngonyameni, naby Emadwaleni, buite Durban is Vrydag dood nadat sy die vorige dag in die hospitaal opgeneem is met simptome van hondsdolheid.

Volgens Zikhali het sy soos ’n hond gegrom, haarself gebyt, gekwyl en opgegooi.

“Hondsdolheid is by haar gediagnoseer nadat dit aan die lig gekom het sy is twee maande gelede deur die bure se hond aan haar regterarm gebyt.

“Sy is op 24 Maart gebyt, maar het ongelukkig nie dokter, kliniek of hospitaal toe gegaan vir mediese behandeling nie.”

Zikhali het gesê die betrokke hond leef egter nog en is gesond.

“Die vrou het verlede Donderdag (24 Mei) die gesonde wond begin krap en gekla dat dit pyn.

“Al die familielede is aangeraai om hospitaal toe te gaan vir ná-blootstellingbehandeling.”

Volgens hom het die familie ingestem vir ’n lykskouing op die oorledene.

Sinethemba Hlongwane (8) van eMaswazini in Bergville is die naweek begrawe nadat hy dalk ook aan dié siekte dood is.

Hy is op Goeie Vrydag (6 April) deur sy eie hond gebyt.

Graeme Anderson (29), die boer van Underberg by wie hondsdolheid gediagnoseer is, is steeds in ’n kritieke toestand in die Pietermaritzburgse Mediclinic se waakeenheid nadat hy drie weke gelede in dié hospitaal opgeneem is.

“Ons smeek die gemeenskap om hul honde en katte te laat toets vir hondsdolheid. Die departement doen ’n grootskaalse inentingsprogram in die provinsie,” het Zikhali gesê.

- Beeld

No comments:

Post a Comment