Wednesday 30 May 2012

Tswane brandweer vra voortaan geld

Wanneer ’n brandweerwa sy neus by ’n brandweerstasie in Tshwane uitsteek, gaan jy voortaan daarvoor betaal.

Selfs al het jy nie die brandweer gebel nie of die brandweer het niks op ’n toneel gedoen nie, sal jy ’n rekening kry.

Ná wat verneem word, wissel rekeninge tussen R375 en R1 900. In die verlede het die brandweer slegs vir huisbrande rekeninge uitgereik.

Die brandweer het glo sowat ’n maand gelede begin rekeninge uitstuur vir elke toneel waarheen hulle ontbied word.

Nomasonto Ndlovu, Tshwane se strategiese uitvoerende direkteur vir kommunikasie, het bevestig rekeninge moet gegee word in elke geval waar die brandweer na ’n toneel ontbied of waar hulp benodig word om ’n humanitêre diens te lewer.

Volgens Ndlovu is dit ingevolge tariewe wat die Tshwane-metroraad goedgekeur het.

Sy kon nie sê waarom dié stelsel in werking gestel is kort voordat die nuwe geldjaar op 1 Julie begin nie.

Brandweerbeamptes het aan Beeld gesê die nuwe rekeningstelsel is “belaglik”.

“As daardie voertuig se enjin start, gaan jy ’n rekening kry,” het ’n beampte gesê.

“Vir enigiets wat ons voortaan doen, gaan mense betaal. Maak nie saak of dit ’n ongeluk of ’n grasbrand is of ’n kat wat uit ’n boom gehaal word nie.

“Wanneer twee voertuie bots en ’n derde party bel die brandweer, sal die mense wat in die botsing betrokke was almal ’n rekening kry.

Al het hulle nie gebel nie en het die brandweer net tot op die toneel gery en niks gedoen nie omdat hul hulp nie nodig was nie.

“Selfs wanneer iemand dood is in ’n ongeluk, sal naasbestaandes ’n rekening ontvang.”

Luidens ’n interne e-pos van Malose F. Malepe, waarnemende assistent-brandweerhoof, word van beamptes verwag om inkomste te genereer deur rekeninge te stuur vir voorvalle waarheen hulle ontplooi word.

Dié besluit is verlede jaar op ’n departementele vergadering geneem.

Die rekening moet ’n uitroeptarief vir personeel, die aanwending van hulpmiddels en die gebruik van toerusting insluit.

Jan en alleman sal moet betaal

Vir elke geval waar toerusting gebruik is of uit ’n sluitkas gehaal is.

Op ongelukstonele moet rekeninge aan alle voertuie wat betrokke was, gegee word.

Alle spesiale dienste.

Grasbrande, behalwe as dit op die Tshwane-metro se eiendom is soos op ’n sypaadjie.

Tydens vloede moet alle huise waar die brandweer se hulp benodig was en hul toerusting gebruik is, ’n rekening ontvang. As die brandweer uitgeroep is, maar hulle kon niks doen nie, moet ’n uitroeptarief gevra word.

Tydens voetgangerongelukke moet die betrokke voertuig­bestuurder ’n rekening ontvang.

Met voorvalle buite die stadsgrense moet 50% ekstra by die rekening gevoeg word. Daar moet ook eers by die inbeller seker gemaak word of hy die rekening gaan betaal.

- Beeld

No comments:

Post a Comment