Saturday 30 June 2012

Blitsige optrede keer brand in kompleks


Malcolm Hyman (heel regs) en lede van die Mosselbaai Brandweer bekyk die uitgebrande motorhuis waar die brand uitgebreek het. Die motorhuis is as stoorplek gebruik. Foto: Cornelle Carstens

MOSSELBAAI NUUS - 'n Brand wat in die vroeë oggendure van Dinsdag, 26 Junie uitgebreek het, is danksy vinnige optrede geblus voordat dit na aangrensende wooneenhede in die Heidepark sekuriteitskompleks in Heiderand kon versprei.

Malcolm Hyman, 'n verkoopsverteenwoordiger en die inwoner van die eenheid waar die brand uitgebreek het, was vroeër die aand besig in die motorhuis, wat dien as stoorruimte vir van sy voorraad bestaande uit lekkergoed, skyfies en snoeperye.

Rondom 00:30 het hy voor die televisie ingesluimer en het omstreeks 01:00 wakkergeskrik van 'n geluid wat soos 'n harde donderslag geklink het. By nadere ondersoek het hy besef dat die motorhuis van binne aan die brand geslaan het. Sy buurman was dadelik op die toneel.

Een van die lede van die Mosselbaai Brandweer woon toevallig ook in die kompleks en danksy die blitsige optrede van die res van die brandweerspan, is die brand spoedig onder beheer gebring. Die voorraad wat in die motorhuis gestoor was, het in die slag gebly, asook heelwat sentimentele items.

Die Hyman-egpaar en hulle twee seuns, onderskeidelik 14 en 12 jaar oud, woon sedert Oktober 2011 in die kompleks.
Alhoewel daar teen druktyd nog nie uitsluitsel oor die oorsaak van die brand was nie, bestaan die vermoede dat dit as gevolg van 'n elektriese kortsluiting kon wees.

- Mossel Bay Advertiser

No comments:

Post a Comment